2010 News

Stephan Coetzee - Boishaai Kaptein

Thu, 29 Jul 2010 12:17:00 +0200

As jy van hakers praat in rugby dink mens onmiddelik aan 'n hardekwas, in-jou-gesig speler, iemand wat vir geen duiwel stuit nie en die 'tawwe' man van die span is. Wel, in Stephan is dit geen uitsondering nie en die kaptein van Boishaai vir Saterdag se Interskole, 'n FNB Classic Clash, is ook van daardie bestandele aanmekaar gesit.  Haker is nie 'n plek vir sissies nie en dit is hoekom Stephan daarvan hou! Hoe harder dit raak hoe lekkerder vir hom.

Stephan is op 9 Januarie 1992 op Worcester gebore en het sy laerskool dae aan Worcester-Oos spandeer waar hy 'n kranige flank was.

Vir sy hoërskool loopbaan het sy keuse op Hoër Jongenskool Paarl geval en hy is sak en pak koshuis toe. Sukses was nie onmiddelik nie en die jong flankie is na haker geskuif en Stephan het eers daar in die 0/14B span al die 'tricks of the trade' van 'n haker geleer. Hy het dan ook die voorreg gehad om onder die legendariese Richard Visagie van die posisie te leer en vir 'n beter leermeester kon hy seker nie vra nie!

Sukses het wel later gevolg en hy is opgetrek na die A-spanne en in 2008 word hy gekies vir die 0nder-16 Grant Khomo span van WP.

In 2009 word hy aangewys as HJS se tweede span kaptein en kry ook daardie jaar plek in die WP Akademie rugbyspan. Vanjaar is hy baie trots om ook HJS se Eerste span kaptein te wees en het ook die WP Cravenweek span as haker gemaak en is boonop as die WP kaptein aangewys.

Oor Interskole is Stephan maar lugtig om voorspellings te waag, maar hy het nog nie in 'n verloorspan gespeel van 0/14 af nie en beplan ook nie om af te sluit in een nie.

"Dit is 'n groot voorreg om in 'n skool te wees met so 'n ryke tradisie," sê hy.

"Dit is ook ongelooflik om deel te kan wees van so 'n alombekende Interskole kragmeting. Interskole is 'n unieke geleentheid wat die hele gemeenskap bymekaar bring en dis 'n groot voorreg om deel daarvan te wees.

"Dit beloof om 'n taai stryd te wees tussen twee sterk skoolspanne wat albei in die Top 10 is van Suid-Afrika. Ons sien baie uit na Saterdag en is goed voorberei."

Deur BHP